RockOpOranje 2012 Kunstenaars
RockOpOranje is ‘n wonderlike geleentheid om die lieflike natuurskoon van die Bo-Karoo te geniet met harde musiek as die klankbaan. Die natuurprag gaan gekombineer word met die alternatiewe rock-klanke van groepe soos Beeskraal, Die Tuindwergies, Bittereinder, Bouwer Bosch, Mosesmetroman en meer.
Sedert 12 jaar gelede het Beeskraal hulself as een van die Afrikaanse musiekbedryf se grootste groepe gevestig. Verskeie media het die groep as revolusionęr bestempel, en dit was ‘n nuwe era vir Afrikaanse Rockmusiek. So het die groep dit weereens bewys met hul nuuste album, Terug In die Kraal. Die album is die Beeste se sewende op hul kerfstok en gewis die beste tot nog.
Weet jy nog wie die Bittereinders was? Dit was die groep Boere wat in die Anglo-Boere oorlog tot aan die einde bly veg het. Die groep Bittereinder sę dit was deel van die inspirasie vir hul groep se naam. Bittereinder bestaan uit drie musikante: Jaco van der Merwe, Louis Minnaar en Peach van Pletzen. Wat die band uniek maak, is dat hulle die heel eerste groep is wat in Afrikaans rap. Hulle doen eintlik baanbrekerswerk, want Afrikaners is nog nie baie bekend met kletsrym in ons taal nie.
Bouwer Bosch van Dans Dans Lisa en Straatligkinders lag vir hoe ernstig mense musiek opvat in die wereld, en hoe ernstig party kunstenaars hulself opvat. Bouwer se unieke muskiekstyl word geinspireer deur Chris Carabba van Dashboard Confessional, sy "gunsteling sanger en skrywer in die wereld". Sedert Straatligkinders besluit het om 'n breek te vat is Bouwer baie bedrywig met Dans Dans Lisa en sy solo album - "Almal maak Voute" (sic). Hy is snaaks, skerp en spog met emmers vol talent.
Met nuwe Afrikaanse bands wat soos pad-dastoele opskiet, is dit eintlik glad nie snaaks dat daar ‘n groep met die naam “Die Tuindwergies” is nie. Die vier jong manne van die groep is heel besonders, want dis twee stelle broers wat kragte saamgesnoer het om musiek te maak. Jean en Emile Swiegers het met musiek in die huis grootgeword, want hul pa, Andre Swiegers, is een van ons talentvolste liedjie-skrywers en hulle het van kleins af die kans gekry om saam met hom op te tree. Dawie en Pieter de Jager, die ander twee dwerge, is weer sterk beďnvloed deur Klopjag, die band waarvan Dawie ‘n lid is en waarin hul ouer broer Sallas ook speel.
Oros in 'n Langglas het in 2010 hul buiging op die Afrikaanse musiektoneel gemaak en is sedertdien baie bedrywig met opvoerings by van die grootste Afrikaanse feeste, van Aardklop tot Innibos. Hulle het al die verhoog gedeel met die grootse name in die bedryf, o.a. Elvis Blue, Jack Parrow, Glaskas, Dans Dans Lisa, Anton Goosen en Die Tuindwergies. Hul nuwe musiekvideo, nl. Skelm, het vir hulle by die Free State Music Awards 'n toekenning besorg en hulle is ook die eerste groep van die Vrystaat wat al by Oppikoppi gespeel het. Liedjies soos Skelm en Gebroke Hande word gereeld op MK gespeel en bekende radiostasies soos Jacaranda FM, Maties FM, OFM en BOKRadio gee vir die manne van die Vrystaat lekker baie blootstelling.
|